Christen-Afrikaner!
Geroep tot kop-optel vir die werk wat wag!
Fika J van Rensburg
Teologiese Skool
Fika.
2007-04-11
Ek is Christen en Afrikaner.
Albei van geboorte af, maar ook albei vanweë bewuste besluite as volwassene.
Dit is nie maar net my lót om Afrikaner te wees nie: ek wíl dit ook wees! En:
ek is nie Christen bloot omdat my ouers dit is nie, maar omdat ek bewustelik
Christus nie net as my Verlosser erken nie, maar as die Báás van my lewe: dié
Een wat hier-en-nou my doen en late, my praat en stilbly, my hele leefstyl
bepaal. En in hierdie Brandpunt wil ek juis oor hierdie Christen-Afrikanerskap praat,
onbevange praat, van die knieë af uit die hart uit praat. Solidêr om ’n dubbele
rede: ons gemeenskaplike Afrikanerbloed, én ons sáám skoon-gewas-wees deur
Christus se bloed.
Hoe voel jy oor
die feit dat jy as Christen, Afrikaner is? Regtig! Eerlik! Diep binne-in? Soos
wanneer jy met jou beste maat hart-uit-praat?
Voor ons hierdie
vrae kan beantwoord, kom ons kyk mekaar eers nog dieper in die oë: hoe moet ons oor onsself en ons verlede voel?
Die swaar wat ons
gekry het, bring perspektief op die krisistye waarin ons meen ons nou leef. Net
’n paar dieptepunte uit die verlede bewerk dié reliëf:
· 105 jaar ná die Vrede van Vereeniging: Gedurende die drie jaar van die Tweede
Vryheidsoorlog is die noordelike deel ons land deur die verskroeide aarde
beleid verwoes, ekonomies verarm! En hoeveel duisende grafte is daar nie: vir
mans gesneuwel of as krygsgevangenes weggevoer en dood, en vir vroue en kinders
deur ontbering en in die konsentrasiekampe dood. Ons voorsate moes weer begin,
as oorwonne volk!
· Bietjie meer as tien jaar later, 1914: Die Eerste Wêreldoorlog ruk Europa, en die
Rebellie skeur ou wonde in ons eie land oop: nou veg neef teen neef, broer teen
broer; die een Afrikanergroep se verraaier is die ander groep se held!
· En in hierdie tyd:
Lord Milner se poging om Afrikaans as taal dood te maak deur Engels as enigste
skooltaal af te forseer!
· En nog twee dekades later, 1933: ekonomiese katastrofe – die wêrelddepressie val in ons land saam met die
grootste en wydste droogte in menseheugenis! Boergesinne verloor hulle plase,
stroom na die stede, bly as werkloses in sinkkrotjies: die
“armblanke-vraagstuk”!
· Minder as ’n dekade later, 1939: die Tweede Wêreldoorlog, weer broer teen broer in die Ossewabrandwagtyd,
duisende ander Afrikaners weg front toe, baie om op vreemde bodem te sneuwel!
· En die grens- en terroriste-oorlog van die sewentiger en tagtiger jare: hoeveel van ons moes te midde van groot
ontbering maande van die huis af wees, baie skade ly, selfs plase verloor en permanente
persoonlikheidsletsels opdoen – om die Rooi Beer van die Kommunisme uit ons
land te hou!
Hierdie voëlvlug
oor die geskiedenis leer ons dat 2007 nog geen krisistyd is soos wat ons as
volk al beleef, en - deur God se genade
- déúrleef het nie. Reeds hierdie wete
moet ons moed gee vir die toekoms, ten spyte van die geweld en die dreinering
van ons mense na die buiteland.
Die voëlvlug oor
die geskiedenis leer ook ’n tweede belangrike les: harde werklikhede bréék mense
…, maar ons het agtergekom dat ons sterker geword het by baie van dié
breekplekke. En dit het veroorsaak dat ons baie kon vermag en só swaar vir baie
ander verhoed het. Enkele voorbeelde:
· Sonder ’n Waarheids- en Versoeningskommissie het ons ons Britse oorwinnaars
toegelaat om ons bondgenote en selfs medeburgers te word. En skaars ’n halfeeu
ná dié verlies van ons onafhanklikheid, het ons in 1961 ons onafhanklikheid as
’n verenigde Suid-Afrika teruggekry - die Republiek van Suid-Afrika!
· En die Afrikaner se herstel uit die
“armblanke-vraagstuk”: Sanlam en Volkskas en Federale Mynbou, en hoeveel ander maatskappye
verrys: ’n middelklas van sterk boere, ambagsmanne, besigheidsmense en
professionele mense!
· Die meeste ander Afrika-state wat in die
vyftiger en sestigerjare onafhanklik geword het, is deur burgeroorloë en
diktature verwoes, sodat daar by hulle vandag feitlik geen infrastruktuur oor
is nie. En Suid-Afrika: Laat ons nie toelaat dat daar vergeet word nie - dit was
onder die sg. “Afrikaner-regime” is dat ons land ontwikkel is tot ’n ekonomiese
reus in Afrika met ’n sterk infrastruktuur en gevestigde landbou!
· En die relatiewe vreedsame naasbestaan van
hoeveel swart volke in ons land: dis die Boere-Republieke, Britse koloniale -
en later Afrikaner-regerings wat vrede en orde help skep het, sodat stamme wat
mekaar moontlik sou uitmoor, tot vrede oorreed en partykeer gedwing is.
Laat ons mekaar daarom
herinner: Die apartheidsera het nie net ellende gebring nie, maar het juis baie
swaarkry verhoed en in baie opsigte ’n nalatenskap gegee wat, gemeet aan
Afrika-standaarde, van die beste is.
· Ons voorsate hét die apartheidsbeleid
eensydig paternalisties daargestel: goed-bedoeld, maar dikwels eensydig afgedwing
in selfopgelegde voogdyskap!
· En toe Apartheid nou eers wet was, het ook
van ons mense dit nie altruïsties konsekwent toegepas nie, maar o.a. toegelaat
dat onbekwame amptenary fondse wanbestuur. ’n Beleid wat dalk sou kon werk, is
só tot mislukking gedoem!
· Die onmenslikheid van die gedwonge
verskuiwings en onteiening móét ons erken!
· Die tuislandbeleid se afwesige pa’s met
hulle hou-vrouens in die witgebiede, en die tuislandkinders wat pa-loos
ongedissiplineerd moes grootword, se resultate sal nog lank met ons wees!
· Werkreservering wás ’n euwel, vir sowel
die bevoordeelde wittes as die benadeelde swartes en bruines: die armes het
nog armer geword en wreek hom steeds op die klein groepie belastingbetalers! En
luiheid en onbevoegdheid by baie wittes is onverdiend met goeie salarisse
beloon!
· Minderwaardige en aparte onderwys vir
swartes het ’n agterstand by hierdie meerderheid veroorsaak wat nog lank sy
nadelige gevolge gaan laat voel! Die kreet Liberation
before education se verwoestende gevolge ís dus ook óns skuld, waaronder
ons nou saam swaarkry!
Die huidige “Delarey-geslag”
wys ons egter dat dit tyd is dat ons kop-optel oor die verlede: dankbaar tróts
oor die dinge wat die toets van die tyd en van God se Woord deurstaan, en
nederig erkennend oor dié dinge wat hierdie toets dop.
Oor die
trots-dinge hoef ons nie nou te koop te loop nie; dit sal net kontraproduktief
wees. Laat ander maar later ons stert daaroor prys. Ons moet egter wél mekaar
daaraan herinner, en ons nie tot depressie-wordens-toe laat saamsleep deur die
eensydige mode-uitlatings wat alles wat sleg is, aan die “verskriklike
apartheidsnalatenskap” of die swart regering toedig nie.
Oor die dinge in
die verlede wat dié toets dop:
· Die ouer geslag: erken
dit nederig, met ’n bereidheid om saam te ly onder die gevolge daarvan en saam
te soek na werkbare oplossings, al beteken dit om Christus se dienskneggestalte
na te volg en sonder erkenning ander se onkunde en onervarenheid met jou
kundigheid en ervaring te kanselleer, tot voordeel van ons land en ons nasie.
· En die jonger geslag:
met integriteitvolle beslistheid moet jy aanhou om enersyds aandadigheid aan
moontlike veronregting óntken, en andersyds ook bevoordeling daardeur. Wees
egter bereid om saam te soek na werkbare oplossings vir die probleme as gevolg
daarvan!
Só moet ons
kop-optel oor ons verlede! Dan is ons ook reg en gerat vir die pad vorentoe!
Dan is ons reg vir die werk wat wag, die taak waartoe God ons roep!
Voorwaarde is dat
jy bereid moet wees om betrokke te raak. Jy mag jou nie laat marginaliseer, by
die kantlyn van die speelveld laat uitdruk nie. Jy moet ook nie bereid wees om maar
net ’n bydrae te lewer nie; jy moet regtig inklim, regtig betrokke raak! Ja,
dit verg opoffering; dit verg selfs die séér wat egte dienskneggestalte en
roepingsvervulling meebring.
Daarom roep ek
jou as mede-Christen-Afrikaner op om my die volgende belydenisse ná te sê:
Só moet ons
kop-optel vir ons werk wat wag! Ons moenie mense wees wie se wensbeentjie sit
waar die ruggraat moet wees nie!
· Ons is úít die politieke kussings, ja!
· Ons velkleur veroorsaak dat baie van ons
diskriminasie ervaar, ja!
· Ons is die slagoffers van misdaad, ja! Maar
ons maak dit nie emosioneel ’n ras-saak nie. Ons tref die nodige maatreëls om
dié vlaag te oorleef, en ons werk sáám vir ’n beter samelewing waar die
verspreiding van (ekonomiese én sosiale) rykdom regverdig is.
Laat ons kop
optel en die werk pak! Laat ons - soos
Langenhoven dit gestel het - ons taak
tot vermaaklikheid maak, en ons swaarkry met lekkerkry klaarkry!
Só antwoord ons op
die roeping wat ons Koning, Jesus Christus, op ons as Christen-Afrikaners lê.