Christen-Afrikaner!

Geroep tot kop-optel vir die werk wat wag!

 

Fika J van Rensburg

Teologiese Skool

Fika.JanseVanRensburg@nwu.ac.za

2007-04-11

 

Ek is Christen en Afrikaner. Albei van geboorte af, maar ook albei vanweë bewuste besluite as volwassene. Dit is nie maar net my lót om Afrikaner te wees nie: ek wíl dit ook wees! En: ek is nie Christen bloot omdat my ouers dit is nie, maar omdat ek bewustelik Christus nie net as my Verlosser erken nie, maar as die Báás van my lewe: dié Een wat hier-en-nou my doen en late, my praat en stilbly, my hele leefstyl bepaal. En in hierdie Brandpunt wil ek juis oor hierdie Christen-Afrikanerskap praat, onbevange praat, van die knieë af uit die hart uit praat. Solidêr om ’n dubbele rede: ons gemeenskaplike Afrikanerbloed, én ons sáám skoon-gewas-wees deur Christus se bloed.

 

Hoe voel jy oor die feit dat jy as Christen, Afrikaner is? Regtig! Eerlik! Diep binne-in? Soos wanneer jy met jou beste maat hart-uit-praat?

Voor ons hierdie vrae kan beantwoord, kom ons kyk mekaar eers nog dieper in die oë: hoe moet ons oor onsself en ons verlede voel?

Die swaar wat ons gekry het

Die swaar wat ons gekry het, bring perspektief op die krisistye waarin ons meen ons nou leef. Net ’n paar dieptepunte uit die verlede bewerk dié reliëf:

·    105 jaar ná die Vrede van Vereeniging: Gedurende die drie jaar van die Tweede Vryheidsoorlog is die noordelike deel ons land deur die verskroeide aarde beleid verwoes, ekonomies verarm! En hoeveel duisende grafte is daar nie: vir mans gesneuwel of as krygsgevangenes weggevoer en dood, en vir vroue en kinders deur ontbering en in die konsentrasiekampe dood. Ons voorsate moes weer begin, as oorwonne volk!

·    Bietjie meer as tien jaar later, 1914: Die Eerste Wêreldoorlog ruk Europa, en die Rebellie skeur ou wonde in ons eie land oop: nou veg neef teen neef, broer teen broer; die een Afrikanergroep se verraaier is die ander groep se held!

·    En in hierdie tyd: Lord Milner se poging om Afrikaans as taal dood te maak deur Engels as enigste skooltaal af te forseer!

·    En nog twee dekades later, 1933: ekonomiese katastrofe – die wêreld­depressie val in ons land saam met die grootste en wydste droogte in menseheugenis! Boergesinne verloor hulle plase, stroom na die stede, bly as werkloses in sinkkrotjies: die “armblanke-vraagstuk”!

·    Minder as ’n dekade later, 1939: die Tweede Wêreldoorlog, weer broer teen broer in die Ossewabrandwagtyd, duisende ander Afrikaners weg front toe, baie om op vreemde bodem te sneuwel!

·    En die grens- en terroriste-oorlog van die sewentiger en tagtiger jare: hoeveel van ons moes te midde van groot ontbering maande van die huis af wees, baie skade ly, selfs plase verloor en permanente persoonlikheidsletsels opdoen – om die Rooi Beer van die Kommunisme uit ons land te hou!

Hierdie voëlvlug oor die geskiedenis leer ons dat 2007 nog geen krisistyd is soos wat ons as volk al beleef, en  - deur God se genade -  déúrleef het nie. Reeds hierdie wete moet ons moed gee vir die toekoms, ten spyte van die geweld en die dreinering van ons mense na die buiteland.

Die swaar wat ons verhoed het

Die voëlvlug oor die geskiedenis leer ook ’n tweede belangrike les: harde werklik­hede bréék mense …, maar ons het agtergekom dat ons sterker geword het by baie van dié breekplekke. En dit het veroorsaak dat ons baie kon vermag en só swaar vir baie ander verhoed het. Enkele voorbeelde:

·    Sonder ’n Waarheids- en Versoeningskommissie het ons ons Britse oorwin­naars toegelaat om ons bondgenote en selfs medeburgers te word. En skaars ’n halfeeu ná dié verlies van ons onafhanklikheid, het ons in 1961 ons onafhanklikheid as ’n verenigde Suid-Afrika teruggekry - die Republiek van Suid-Afrika!

·    En die Afrikaner se herstel uit die “armblanke-vraagstuk”: Sanlam en Volkskas en Federale Mynbou, en hoeveel ander maatskappye verrys: ’n middelklas van sterk boere, ambagsmanne, besigheidsmense en professionele mense!

·    Die meeste ander Afrika-state wat in die vyftiger en sestigerjare onafhanklik geword het, is deur burgeroorloë en diktature verwoes, sodat daar by hulle vandag feitlik geen infrastruktuur oor is nie. En Suid-Afrika: Laat ons nie toelaat dat daar vergeet word nie - dit was onder die sg. “Afrikaner-regime” is dat ons land ontwikkel is tot ’n ekonomiese reus in Afrika met ’n sterk infrastruktuur en gevestigde landbou!

·    En die relatiewe vreedsame naasbestaan van hoeveel swart volke in ons land: dis die Boere-Republieke, Britse koloniale - en later Afrikaner-regerings wat vrede en orde help skep het, sodat stamme wat mekaar moontlik sou uitmoor, tot vrede oorreed en partykeer gedwing is.

Laat ons mekaar daarom herinner: Die apartheidsera het nie net ellende gebring nie, maar het juis baie swaarkry verhoed en in baie opsigte ’n nalatenskap gegee wat, gemeet aan Afrika-standaarde, van die beste is.

Die swaarkry wat ons veroorsaak en/of toegelaat het

Maar dan dwing ons integriteit as Christen-Afrikaners ons om ook die swaar wat ons veroorsaak en/of toegelaat het, ons voor die oë te laat staan. ‘n Paar lukrake voorbeelde:

·    Ons voorsate hét die apartheidsbeleid eensydig paternalisties daargestel: goed-bedoeld, maar dikwels eensydig afgedwing in selfopgelegde voogdyskap!

·    En toe Apartheid nou eers wet was, het ook van ons mense dit nie altruïsties konsekwent toegepas nie, maar o.a. toegelaat dat onbekwame amptenary fondse wanbestuur. ’n Beleid wat dalk sou kon werk, is só tot mislukking gedoem!

·    Die onmenslikheid van die gedwonge verskuiwings en onteiening móét ons erken!

·    Die tuislandbeleid se afwesige pa’s met hulle hou-vrouens in die witgebiede, en die tuislandkinders wat pa-loos ongedissiplineerd moes grootword, se resultate sal nog lank met ons wees!

·    Werkreservering wás ’n euwel, vir sowel die bevoordeelde wittes as die bena­deelde swartes en bruines: die armes het nog armer geword en wreek hom steeds op die klein groepie belastingbetalers! En luiheid en onbevoegdheid by baie wittes is onverdiend met goeie salarisse beloon!

·    Minderwaardige en aparte onderwys vir swartes het ’n agterstand by hierdie meerderheid veroorsaak wat nog lank sy nadelige gevolge gaan laat voel! Die kreet Liberation before education se verwoestende gevolge ís dus ook óns skuld, waaronder ons nou saam swaarkry!

Kop-optel oor die verlede

Die huidige “Delarey-geslag” wys ons egter dat dit tyd is dat ons kop-optel oor die verlede: dankbaar tróts oor die dinge wat die toets van die tyd en van God se Woord deurstaan, en nederig erkennend oor dié dinge wat hierdie toets dop.

Oor die trots-dinge hoef ons nie nou te koop te loop nie; dit sal net kontraproduktief wees. Laat ander maar later ons stert daaroor prys. Ons moet egter wél mekaar daaraan herinner, en ons nie tot depressie-wordens-toe laat saamsleep deur die eensydige mode-uitlatings wat alles wat sleg is, aan die “verskriklike apartheids­nalatenskap” of die swart regering toedig nie.

Oor die dinge in die verlede wat dié toets dop:

·    Die ouer geslag: erken dit nederig, met ’n bereidheid om saam te ly onder die gevolge daarvan en saam te soek na werkbare oplossings, al beteken dit om Christus se dienskneggestalte na te volg en sonder erkenning ander se onkunde en onervarenheid met jou kundigheid en ervaring te kanselleer, tot voordeel van ons land en ons nasie.

·    En die jonger geslag: met integriteitvolle beslistheid moet jy aanhou om enersyds aandadigheid aan moontlike veronregting óntken, en andersyds ook bevoordeling daardeur. Wees egter bereid om saam te soek na werkbare oplossings vir die probleme as gevolg daarvan!

Só moet ons kop-optel oor ons verlede! Dan is ons ook reg en gerat vir die pad vorentoe! Dan is ons reg vir die werk wat wag, die taak waartoe God ons roep!

Régtig betrokke raak

Voorwaarde is dat jy bereid moet wees om betrokke te raak. Jy mag jou nie laat marginaliseer, by die kantlyn van die speelveld laat uitdruk nie. Jy moet ook nie bereid wees om maar net ’n bydrae te lewer nie; jy moet regtig inklim, regtig betrokke raak! Ja, dit verg opoffering; dit verg selfs die séér wat egte dienskneg­gestalte en roepingsvervulling meebring.

Daarom roep ek jou as mede-Christen-Afrikaner op om my die volgende belydenisse ná te sê:

 

Kop-optel vir ons werk wat wag

Só moet ons kop-optel vir ons werk wat wag! Ons moenie mense wees wie se wensbeentjie sit waar die ruggraat moet wees nie!

·    Ons is úít die politieke kussings, ja! Maar ons het ’n grondwet wat ons regte beskerm! Gebruik dié grondwet!

·    Ons velkleur veroorsaak dat baie van ons diskriminasie ervaar, ja! Maar ons het kundigheid en ervaring wat op die lang duur nie verbeur kan word nie!

·    Ons is die slagoffers van misdaad, ja! Maar ons maak dit nie emosioneel ’n ras-saak nie. Ons tref die nodige maatreëls om dié vlaag te oorleef, en ons werk sáám vir ’n beter samelewing waar die verspreiding van (ekonomiese én sosiale) rykdom regverdig is.

Laat ons kop optel en die werk pak! Laat ons  - soos Langenhoven dit gestel het -  ons taak tot vermaaklikheid maak, en ons swaarkry met lekkerkry klaarkry!

Só antwoord ons op die roeping wat ons Koning, Jesus Christus, op ons as Christen-Afrikaners lê.